Inleiding:
Ons hoor gereeld van die “binne kring”, of die “kring van vertroue” (Circle of trust). Hierdie konsep verduidelik dat daar ‘n band van vertroue is tussen ‘n groep mense. Tannie Google beskryf dit soos volg: “It's the place we keep our true friends, a small group of people in our lives that we trust completely and consider to be our closest friends, family and confidants.”
In ons verhouding met ons Hemelse Vader, is daar ook ‘n kring maar, ons noem dit nie ‘n Kring van vertroue tussen ‘n klein groepie mense nie! Maar ‘n kring van geloof.

Dié wat glo dat Jesus die Seun van God is, glo tot geregtigheid, en bely tot redding. (Romeine 10:9-10). Om deel van die klein groepie vriende se kring van vertroue te wees, moet ‘n mens jou betroubaarheid bewys. In die kring van vertroue, hoef ons niks te bewys deur ons aksies nie. Ons moet slegs glo en bely. Is dit nie maklik nie?
God Versoek niemand nie
Voordat ons by geloof uitkom, moet daar eers so bietjie gepraat oor die eeu oue vraagstuk, lei die Here Jesus ons in die versoeking in? Met ander woorde, sal die Here Jesus ons versoek met sonde? Absoluut nee!! Glad nie!! Ons sien in Mattheus 4:3 “En die versoeker het na Hom gekom en gesê: As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word.” U sien dat God nie die mensdom versoek nie, want God kan Homself nie met sonde versoen nie! Jesus is versoek, net soos ons, maar het geen sonde gedoen nie. Maar, daar is altyd hoop in die Evangelie van Christus, 1 Korintiërs 10:13 “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.”
Word ons deur God aangekla?
Hoe gereeld hoor ‘n mens dat iemand wat diep in sonde verval het sê dat hulle nie kerk toe kan gaan nie. Die argument is dat hulle so diep gesondig het dat hulle nooit vergewe sal word nie. Is dit die Heilige Gees wat mense aankla oor hulle sonde? NEE! God se Woord sê dat Jesus gestuur is aarde toe, nie om die wêreld te oordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word. Wie kla ons dan aan? Openbaring 12:10 “Toe hoor ek ‘n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag”.
Hoekom laat God toe dat ons verdruk word?
Dit is so dat ‘n mens soms in die druk van die lewe beland, dan wonder ‘n mens hoekom God die mens straf, is dit omdat ons gesondig het. Ek weet van ‘n huisgesin wat ‘n baie siek kind gehad het, tot die dood toe siek. Toe die ouers die groot ouers vra hoekom die Here Jesus dit toelaat, was die koue antwoord dat die ouers gesondig het en dat die 3 weke oue babetjie boet vir die sonde van sy ouers. Dierbares, dit is nie waar nie! Psalms 103:10 “Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie”.
Ons eie besluite en keuses laat soms toe dat ons deur omstandighede gaan, wat vir ons lyk of dit ons gaan oorweldig. Maar, ek kan vir u bevestig, dat die Here Jesus Christus ons lief het en gereed staan om ons te help of ons versoek, verlei of aankla word.
Skriflesing:
Romans 5:1-11
(1) Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus; (2) deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God.
(3) En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk, (4) en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop; (5) en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is. (6) Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe.
(7) Want nouliks sal iemand vir ‘n regverdige sterwe vir ‘n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe (8) maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. (9) Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn.
(10) Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is. (11) En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in God deur onse Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening verkry het.
‘n Kring of pand, soos ‘n trou-ring, se waarde lê daarin dat dit nie ‘n begin of einde het nie. Dit herinner ons aan God dat Hy wat was, en is, sal wees tot in ewigheid.
Die tema van hierdie boodskap is dat ons in die kring van geloof sal inkom. Hoe sal ons dit regkry? Openbaring 12:11 “En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie”. Paulus verduidelik hierdie konsep in die gelese gedeelte.
Verdrukking
Lydsaamheid
Beproefdheid
Hoop
Liefde
Opsomming:
God het die mens oneindig lief. Dit klink na sommer net so ‘n klein woord, maar die omvang daarvan kan ‘n mens nie regtig verstaan nie. God verlei, versoek en kla ons nie aan nie. Die Heilige Gees kla ook nie die mens aan nie, maar oortuig ons. Die kwalifikasie van oortuig is dat jy self die besluit maak. Versoek, verlei en uiteindelik aanklag beteken dat ons in so situasie gedruk word dat ons nie meer self kan kies nie. Dink aan verslawing van enige aard!
Christus bring vir ons die oplossing, naamlik dat ons in die kring van geloof moet beland. Binne die kring is daar oneindige hulpmiddels, wat ons bystaan onder alle omstandighede.
Comments