top of page

Wie is beheer in 2023?

wparkin13


Inleiding:

David Jeremiah skryf in sy boek 365 daily devotions op die 31 Des. 22 dat die mens graag spekuleer oor wat die nuwe jaar inhou. Hy voer aan dat ons nadat ons aan al die positiewe en negatiewe gedink het probeer om die toekomstige jaar te beheer deur doelwitte te stel, te beplan en om oornemings te maak. Maar helaas, as ons terug kyk dan sien ons dat God in beheer is van alles, self die toekoms. In Jeremiah, sê die Woord dat ons nie op onsself moet vertrou nie, maar dat ons in God moet vertrou.

Moses:

In Exodus 4: 1-14 lees ons die verhaal van Moses, wie die Here gekies het om die toekoms van Sy volk te bepaal. U sien God se plan was om Moses te gebruik om Sy volk te verlos van die slawe drywers, die Egiptenaars. Ons lees hier dat Moses onwillig was omdat hy gevoel het dat hy nie kon praat nie. In verse 14 lees ons dat God te toorn oor Moses ontvlam omdat hy nie geloof deur die tekens en wonders wat God gedoen het ontvang het nie.

Die probleem is dat Moses self sy lewens koers wou uitwerk, terwyl God vir hom reeds ‘n plan van oorwinning bewerkstellig het. Die Here sê vir Moses: Exodus 4:11 “En die HERE antwoord hom: Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie?” Met ander woorde, ek sal jou tong losmaak, doen net my wil, sê die Here.


Joshua:

Joshua erf die leierskap van die volk by Moses. Hier sien ons dat die Here nie vir Joshua tekens en wonders wys om hom te oortuig nie. Die Here bemoedig vir Joshua oor die toekoms met die woorde: Joshua 1:3 Elke plek waar julle voetsool op sal trap, dit gee Ek aan julle, soos Ek met Moses gespreek het.


Wat sê die Here eintlik hier vir Joshua? Twee dinge: eerstens, al die beloftes wat ek vir Moses gemaak het, gee ek nou ook vir jou. Tweedens, soos ek met Moses gewandel het, sal ek ook met jou wandel. Dit wil sê: Vertrou op my vir jou toekoms, ek belowe ek sal jou seën, want ek is met jou.


Ons lees nie die teks dat Joshua twyfel uitspreek nie, maar die Here sê vir hom: Joshua 1:6 Wees sterk en vol moed; want jy sal hierdie volk die land laat erwe wat Ek hulle vaders met ‘n eed beloof het om aan hulle te gee.

God is nie een wie Sy Woord verander nie, Hy het belowe Hy gaan ons seën, Hy is ‘n waarmaker van Sy Woord.


Die bemoeidig vir Joshua ‘n tweede keer: Joshua 1:9 Het Ek jou nie beveel nie: Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie; want die HERE jou God is met jou, oral waar jy heengaan.


Gehoorsaamheid:

In die Woord van God is daar ‘n voorwaarde aan God se belofte om met ons te wees, naamlik dat ons gehoorsaam aan Hom sal wees. Die praat uitdruklik hier met Joshua, My seun: Joshua 1:7-8

(7) Wees net baie sterk en vol moed, om nougeset te handel volgens die hele wet wat Moses, my kneg, jou beveel het; wyk daarvan nie regs of links af nie, sodat jy met goeie gevolg kan handel, oral waar jy mag gaan.

(8) Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel.


2023:

Sou ek vir u sê dat 2023 ‘n rooskleurige jaar gaan wees, dan sou ek sekerlik nie die waarheid praat nie. Maar, as ek vir u sê dat as ons gehoorsaam aan God sal wees, dat Hy, Jesus, met ons sal wees, dan sou dit die reine waarheid wees.


Ek wil die Here se woorde aan Joshua vir u herhaal: Joshua 1:9 Het Ek jou nie beveel nie: Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie; want die HERE jou God is met jou, oral waar jy heengaan.


Opsomming:

Moses het ten spyte van die tekens wat die Here vir hom gewys het, Sy staf het in ‘n slang verander, Die Nyl water het in bloed verander, sy hand het melaats geword en weer gesond, nog steeds die Here nie vertrou nie. Sy wederstrewigheid het veroorsaak dat God vir hom ‘n helper moes gee in Aaron. Sy wederstrewigheid het ook veroorsaak dat hy nie die beloofde land kon ingaan nie.


Joshua aan die ander kant het besluit, Joshua 24:15 Maar as dit verkeerd is in julle oë om die HERE te dien, kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: òf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, òf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die HERE dien.


Ek laat hierdie gedagte by u vandag, Wie is in beheer van 2023, u of die Here Jesus Christus? Ek wil verklaar, ek en my huis, ons al die Here Jesus Christus dien. Die God van my vaders, van Abraham Isak en Jakob, Hom sal ek dien.


Amen










 
 
 

Comments


bottom of page