Inleiding
Geestelike reiniging is nie dieselfde as Heiligmaking nie. Heiligmaking verwys volgens die skrif na die proses om in Jesus se voetstappe te volg, en dan ons soos Jesus te maak. Reiniging aan die ander kant het sy oorsprong reeds in die begin van die Bybel. As ons na Moses se wet gaan kyk dan sien jy dat voordat die Hoë Priester voor die aangesig van God verskyn het, moes hy homself eers reinig. Eerstens deur sy liggaam met water te was, klere van wit linne aan te trek en dan moes hy die tempel en homself met die bloed van ‘n geslagte bok besprinkel vir reiniging. Wanneer die priester dan in die teenwoordigheid van God sou ingaan, en hy nie gereinig was nie, het God hom verwerp. Die priester se lyk is dan gewoonlik aan ‘n tou om sy enkel uitgetrek. As ‘n mens hierdie geskiedenis in ag neem, dan beteken die skrif in Matthew 5:8 “Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien”, soveel meer.
Reiniging van ons tempel
Ons herinner onsself een keer per maand met die sakrament van die nagmaal dat Jesus Sy lewe as die rein en volmaakte Lam van God geslag en geoffer is vir die reiniging van ons tempel:
1 Korintiërs 6:(19) Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?
(20) Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.
Die allerheiligste van die tempel
Die allerheiligste deel van die ou Testament is vervang met die hart van die mens. Hoor wat sê die Skrif:
Galasiërs 4:4-6
(4) Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet,
(5) om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.
(6) En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader!

Die reinigings proses
Ons hoef nie meer ‘n onskuldige volmaakte lammetjie te vat, hom te slag, te offer op ‘n altaar en sy bloed te gebruik om onsself en ons tempel te besprinkel sodat ons gereinig kan word nie. Nee! Jesus het eenkeer namens ons Homself gegee sodat ons deur Sy ewige Bloed gereinig kan word.
1. Ons is dus uit genade gered, deur die geloof, nie uit werke nie:
Ephesians 2:4-9
(4) Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het,
(5) ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus—uit genade is julle gered—
(6) en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus,
(7) sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus.
(8) Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;
(9) nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.
2. Bely julle misdade, met ander woorde, erken jou foute en vra om verskoning:
Jakobus 5:16
(16) Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.
3. Glo dat die Here Jesus jou vergewe:
1 John 1:9
(9) As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.
4. Weet dat jy gereinig word van jou sonde:
1 John 1:7
(7) Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.
5. Ontvang jou Vryheid:
John 8:36
(36) As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.
Wat verhoed jou om gereinig te word?
Niks nie! Is u bewus daarvan dat jou sondelas vir Jesus nie te veel is nie? Weet jy dat jou sonde niks is vir Jesus nie! Hy wil jou help om vry te kom van die vervloeking van die wet van die sonde. Hoe lank sal jy hinker op twee gedagtes?
Kom! Wil jy nie ‘n besluit maak nie? Daar wag vir jou die wonderlikste ervaring as jy net vir Jesus ‘n kans wil gee om jou te help om van jou sondelas ontslae te raak. Weet jy dat Jesus medelye het met jou swakheid? Hebrews 4:15 Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. 16 Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.
Jesus staan voor jou vandag en klop aan jou hart se deur! Sal jy asseblief oopmaak en Jesus in jou hart in nooi. Jesus wil jou help om gereinig te word.
Kind van God, gebruik asseblief hierdie geleentheid om vir Jesus jammer te sê vir die foute wat jy gemaak het, sodat Hy jou kan vergewe en jou kan reinig.
Comments